Queen's House

Die Queen's House met die suilegange weerskante.

Die Queen's House is ’n voormalige koninklike woning wat tussen 1614 en 1617 gebou is in Greenwich, wat toe ’n paar kilometer met die Teemsrivier langs van Londen was en nou ’n stadsdistrik is. Dit is ontwerp deur Inigo Jones, vir wie dit ’n belangrike eerste kommissie was, vir Anna van Denemarke, die koningin van Jakobus I. Jones het dit omstreeks 1635 verander vir Henrietta Maria van Frankryk, die koningin van Karel I.[1][2]

Die Queen's House is een van die belangrikste geboue in Britse argitektuur omdat dit die eerste bewustelik klassieke gebou is wat in Brittanje gebou is. Voorheen is daar by die klassieke styl geleen, maar dit was beperk tot klein detail. Die huis moes rewolusionêr gelyk het vir die Britte van dié tyd. Jones kry ook die krediet vir die bekendstelling van Palladianisme met die bou van die huis, hoewel hy afgewyk het van die matematiese beperkings van Palladio. Vandag is die huis deel van die Britse maritieme museum en word dit gebruik vir uitstallings van die museum se aansienlike versameling maritieme skilderye en portrette.

  1. Survey of London, Howard Colvin, red. The History of The King's Works, Volume IV, 1485–1660, Deel II 9, London County Council
  2. Bold, John. Greenwich: An Architectural History of the Royal Hospital for Seamen and the Queen's House. Yale University Press, 2000

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy